
Ander se stories
Hoe doen tannie dit, was die vraag. Want in my werk ontmoet jy dikwels vreemde mense…
Ek luister na hul stories en kyk dieper. Soek die mens agter die masker. Vra uit. Lankal geleer dat ek nie met alles hoef saam te stem nie, maar dat elkeen tog ‘n storie het. Stories bring perspektief.
So ontmoet ek die vroutjie met die skewe glimlag. Op ‘n dag waar ek self eintlik moedeloos voel. Die vorige aand wou die kar nie ‘start’ nie. Die ‘backup’ bakkie gee ook onverwags probleme. Tyd vir ‘n nuwe battery. Om nie te praat van al die ander uitgawes nie. Daar is nie tyd vir rondstaan nie. Ek sluit die kar en stap die laaste ent werk toe. Sit ‘n glimlag op en groet vriendelik.
Haar storie:
Dit begin met ‘n vraag sonder dat dit iets van haar verlede verklap. Ek maak gevolgtrekkings sonder inligting. Bly gelukkig uitvrae om uiteindelik diepe waardering vir die vrou te kry wat voor my sit.
Êrens in ‘n sin hoor ek van die kind wat doodgebore is. ‘Te lank in kraam”, verduidelik sy. Gelukkig ‘n gesonde baba ‘n jaar later. Werk jy? Vra ek later. “Nee”, kom die antwoord. “Ek versorg my ander kind.” Sy bly ‘n oomblik stil voor sy verduidelik. “Die oudste het serebrale verlamming.” Ek luister verstom. Eerste kind, breinskade, 2de kind doodgebore….hoeveel trauma het sy nie reeds beleef nie.
‘n Gewone vrou wat instap met ‘n glimlag.
Luister na stories, vra uit, leer van mekaar, bly ek pleit. Veral vir hulle wat vinnig klippe gooi. Dis eers as ons iets van mekaar weet, dat ons beter kan verstaan. Hoekom sy ‘n tweede man het, hoekom sy smag na nog ‘n kind en hoekom sy nie werk nie.
Wanneer my oudste juffrou-kind verstom raak oor die woede in van haar graad twee kinders, wat onsteld en aggresief oor klein dinge word as hul nie hul sin kry nie, herinner ek haar dat ook daardie kind êrens ‘n storie het. Haar verwysingsraamwerk van ‘n stabiele huis lyk ander as daar buite. Enkel gesinne, afwesige ouers, finansiële druk en moeilike sosiale omstandighede lei tot kinders wat ontoepaslik optree. Soms kos dit ‘n ompad om agter die skerms te kan loer.
Ek het nie altyd antwoorde nie en stem dikwels nie saam met lewenskeuses nie. Kinders se gedrag is ook nie noodwendig aanvaarbaar nie en omstandighede nooit ‘n rede om sonder respek op te tree nie. Tog help dit as ‘n mens ‘n tree terugtree en dinge uit ‘n ander hoek beskou.
Die wonder is dat jou eie probleme dikwels kleiner word soos jy na ander luister. Twee pap batterye word uiteindelik maar net iets wat jy kan vervang.
Hoe doen tannie dit, dink ek weer oor die vraag.
Jy leer om jou pen neer te sit en soms net te luister.
Wat ‘n voorreg dat ek ‘n Vader het wat na my stories luister. By wie ek my hart kan uitstort. Dis wanneer jy by die troonkamer instap dat jy nie anders kan as om anders uit te stap nie. Sy genade onverdiend. Ook vir my en jou. Jesus het eerder op die grond geskryf as wat Hy self die klip wou optel.
Soms kos dit moeite om die groter prentjie raak te sien.



