
Gekies
“Hul noem die name alfabeties: A, B, C D,.. F. Hul het my naam gemis….”
So begin my oudste haar gedig jare gelede na aanleiding van die prefek verkiesing. ‘n Rou eerlike gedig wat verwoord wat baie jaarliks voel, maar nie sê nie. “Ek weet ek moenie sad wees nie, maar ek is. Ek weet dit define my nie, maar waarom is ek nie gekies…?”
Die gedig beland later in ‘n digbundel. Omdat ander dit ook moet lees. My protea meisie styg uit bo haar hartseer en bereik ander hoogtes. Haar matriekjaar word deel van haar getuienis. Sy stap lig vorentoe.
Vyf jaar later is dit weer verkiesingsdag. Hierdie keer word beide sussies se name wel gelees. Ousus se blydskap ken geen perke. Ander geleenthede vir hul beskore. In ons huis brand vreugdevure, veral vir die mamma, omdat dit anders is om ‘n tweeling groot te maak. Omdat dit moeilik is om bly te wees vir een as ‘n ander ween. My hart huil wel vir hul vriende wat graag daar wou wees. Ek ken immers daai paadjie ook…
Die son kom op en die son gaan sak. Môre wink ‘n nuwe dag. Vir almal.
“Is die lewe nie meer werd as klere en die liggaam as kos nie?”, word ons herinner aan dit wat die belangrikste weeg in ons lewensstryd.
In ons kerkreeks, Jesus in ‘n duisend huise, is die tema, dat jou huis dáár is waar lewens en gemeenskappe verander. Is die ware selfie van wie jy is, nie noodwendig ‘n lewensgroot ‘jy’ nie, maar ‘n stukkie ‘jy’ in die groter prentjie. Ons is bedoel om ‘n verskil te maak waar ons beweeg. Nie net te blom waar ons geplant is nie, maar so te leef dat ander om ons begin blom. Perspektief raak die groter woord. Wanneer ons net op onsself fokus, raak ons visie beperk. Wanneer God ons oë oopmaak, begin ons sy groter plan raak sien.
Wanneer bekende skilders hulself skilder, sien ons net een groot afbeelding. Wanneer Chinese kunstenaars húlleself teken, sien jy ‘n klein spikkel-mens êrens op die roete. ‘n Roeier op ‘n groot rivier, ‘n bergklimmer op ‘n piek. Deel van iets soveel groter. Treffend.
Sekere momente in ons lewens raak bakens op ons lewenspad, net soos ons deel word van iemand anders se pad. Dis die groter prentjie.
Met die onverwagse frats vloed in Nepal, waar ‘n watermassa binne oomblkke lewens en geboue verwoes het, stop my pen ook in sy spore. Ek raak opnuut bewus van die nietigheid van die mens en die kortstondigheid van die lewe. Ander dinge raak irrelevant wanneer lewens net weggeruk word…
A, B, C, D ..F,
Hy’t nie jou naam gemis. Dis net gelees op ‘n ander plek. Die opdrag bly dieselfde.
Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld…verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is jul daartoe geroep…Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Kolossense 3:12, 15,16
Waar Christus in ons woon, daar verander lewens en gemeenskappe. Gekies vir ‘n groter plan.



