
Deur die mis
Ek het hom vroeg wakker gemaak. Dit was tyd vir ons jaarlikse verjaarsdagstappie, al was dit 2 dae te vroeg. Dit is immers nie aldag dat die student by die huis is op ‘n oggend waar ek later werk nie. Ek kon die geleentheid nie laat verby glip nie!
Buite was dit mistig en klam. Hy’t later erken dat dit die tipe dag was waar hy nie maklik sou gaan draf het nie. Ek sou dit ook nie gewoonlik gewaag het in die berg nie….
In die mis was die stilte tasbaar. ‘n Bietjie gedraf en dan weer gestap. Op en op met die kronkelpaadjie. Skielik het die prentjie verander. Die grysheid het verdwyn en voor ons het die berg helder verskyn. Ongelooflik mooi. Onder ons het die vallei in wit watta gelê. Amper soos ‘n donskombers. Ons was bo die wolke. Ek het gestop vir foto’s en om die oomblik te beleef. Uniek bevoorreg, soos my vriendin sou sê.
In die verte, agter die berge, het die son sy kop gelig en helder strale het ons begroet. Weer het ons gestop om te kyk. Asem te haal. Ons was bo.
Die afdraende was steil en sy remme het skielik geen perke gehad nie. Ek het rustig agterna gekom. Dankbaar dat ek nog kon hol. Dat ons die oggend saam kon beleef. Onder in die vallei was ons skielik weer binne in die wolk. Tog was ons harte lig, al was dit grys rondom ons. Ons het immers geweet wat ons weet. ‘n Paar mense was besig om op te stap. Hou net aan, wou ek hul aanpor. Twee vriendinne het by die dammetjie gesit en gesels. Die berg heeltemal buite sig. Ek het gewens ek kon hul vertel hoe mooi en helder dit bo die wolke lyk.
Terug by die huis het ek in verwondering na die prentjies op my foon gekyk en gedink aan dit wat ons beleef het. Die boodskap het by my gebly:
- Mistigheid is soos seisoene, dit kom en gaan.
- Soms moet jy waag om hoër te klim.
- Net omdat jy nie die son kan sien nie, beteken nie dat hy nie skyn nie.
- Van bo af lyk die prentjie anders as van onder af.
- Jy kan dinge vir ander vertel, maar jy kan nie namens hulle leef nie.
- Die berg het nie geskuif nie, al was die wolke in die pad. Ons Here bly getrou.
- Nie almal hoef elke dag die berg te sien nie.
Vir sy 21ste verjaarsdag, het ons besluit om vir hom ‘n gereedskap-tas te gee. Iets wat hy altyd sal kan gebruik. Tog het ek besef dat jy al die gereedskap onder die son kan hê, maar sonder die regte lewens “tools”, jy die moeilik gaan vind om koers te hou.
Kies die lig, waag om aan te hou klim. Hou vas aan die Woord, omring jou met goeie vriende. My raad aan hom. En wanneer die lewe grys voel, onthou hierdie dag. Die helder berg, die sonsopkoms en wolke onder in die vallei.
Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.
En nou, geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde! I Korintiërs 13
So nou en dan moet jy waag om deur die grys te stap. Wie weet, die lig is dalk nader as wat jy dink.
Met dankbaarheid opgedra aan my seun met sy 21ste verjaarsdag.Dankie dat jy gewaag het om op te staan en saam te gaan.






