
Asem in die wind
You give life,You are love.
You bring light to the darkness.
You give hope, You restore,
Every heart that is broken.
Great are You, Lord.
Terwyl ek bepeins oor my verjaarsdagnaweek, kom die lied in my kop. Eintlik die refrein oor asem, want ouer word laat jou anders dink.
Toe ek sien dat ek hierdie jaar op ‘n Saterdag verjaar, en boonop in die skool vakansie, het ek geweet wat ek wil doen: ‘n Uitstappie na Tafelberg saam met my hartsmense en goeie vriende. Om die berg te klim en die lewe te vier.
Ek nooi natuurmense soos ek uit, maar een na die ander kom geldige verskonings in: Kuitspier geskeur, onlangse operasie, ‘n ma wat verjaar, iemand nog besig om te herstel, weg met vakansie… Die lysie mense bly krimp. Gelukkig koop my gesin en ‘n paar ander in.
Geen reën is voorspel nie, net ‘n sterk en koue wind. Ek is ‘n ervare stapper en skrik nie te veel nie, maar soos my vriendin later opmerk: As die kabelkar nie kan ry nie moet jy mooi dink… Ek waarsku almal om ‘n warm baadjie in te pak. Gelukkig. Op die ingewing van die oomblik besluit ons om die omgekeerde roete te stap as beplan. ‘n Vinnige klim tot by die eerste uitsig, toe die gemaklike kontoerpad, en kort voor lank by die steil opdraende. Platteklip Gorge lyk soos ‘n hoofweg van vele stappers wat net so braaf soos ons is. Sommige sukkel meer as ander. Almal het een doel, om bo te kom. Vir sommige hul eerste poging ooit. Ons lag vir die opmerkings van sommiges en glimlag soos hul mekaar motiveer. “Gee die stokke vir ons wat nog moet op”, roep een man uit vir die wat al oppad af is. All shapes and sizes klim tree vir tree. Wat ‘n voorreg as jy kan.
Bo is dit grys en ysig koud.
Die afdraaipaadjie na my beplande roete is gesluit en laat ons met min genade. Dwaas en vorentoe of wys en dieselfde pad terug. Ek sluk my teleurstelling want ek weet wat ek moet kies. Ons eet die cupcakes en ek word hartlik geluk gesing. ‘n Spesiale oomblik bo op Tafelberg. Dan begin die terugtog. Rukwinde pluk alles rond. Dis nou elke man vir homself. Vashou hier en gryp daar. Tree vir tree. Uiteindelik kom ons onder die wolk uit. Skielik is daar ‘n uitsig. ‘n Belewenis op sy eie. Terug op die kontoerpad waar ons hande weer lewe kry en die sonnetjie skyn asof niks fout is nie. By die kloofnek uitsig eet ons ons laaste snacks. Die uitsig na Leeukop prentjie mooi. End good, all good…
Dis wanneer ek later snoesig op my bed lê en na die foto’s kyk, wat ek ‘n paar dinge besef.
- die lewe werk nie altyd uit soos ons dit beplan nie.
- Soms moet jy die roete verander, dalk selfs terugloop in jou spore
- Blessings beteken nie altyd sonskynweer nie, maar ‘n veilige tuiskoms en geliefdes wat saam met jou stap.
- Om asem te haal is goed, om ‘n berg te kan klim ‘n voorreg wat almal nie het nie
- Die mooiste prentjie wag dikwels as jy deur die wolke stap
- Mense in die vallei weet nie altyd wat daar bo aangaan nie
- As die kabelkar nie ry nie, weet hul dalk iets wat jy nie weet nie. Luister na raad en wees voorbereid!
Die uitstappie was goed en ek het lekker verjaar. Almal het veilig onder gekom, almal se vingers het ontdooi en die roomys na die tyd was die kersie op die koek. Verseker ‘n dag om te onthou.
In retrospek was hierdie dalk presies wat ek nodig gehad het. Vir die seisoen waar ek tans is: Perspektief op die lewe. Soms moet jy anders kyk om die seëninge opnuut raak te sien. Nog ‘n dag om asem te haal en voluit te leef is aan my gegee. Die besef laat my uitstyg bo al my kommer. Ek kies dus my verjaarsdaglied met ‘n dankbare hart wanneer ek sing:
It's Your breath in our lungs
So we pour out our praise
We pour out our praise to you only!





