
Manna van bo
Eintlik wou ek nog by die biblioteek gestop het, maar die tyd het my ingehaal. Toe maak ek maar my draaie klaar en ry direk huis toe. By die klein dwars straatjie draai ek regs om die verkeer te mis. My oog vang die vroutjie wat moeisaam teen die bult opstap. Sy beduie iets met haar hande terwyl ek verby ry. Iets in haar liggaamstaal laat my impulsief stop. ‘n Vreemde desperaatheid.
“Soek jy ‘n lift?”, vra ek vriendelik. “Asseblief mevrou.” Haar oë is tranerig. “My kind is in die hospitaal.” Die skool het haar gebel. Die kind het gesukkel met asem en is hospitaal toe geneem. Verder weet sy niks. Sy moes van Brackenfell ‘n taxi na Belville neem om ‘n taxi Somerset-wes toe te neem. Toe al die pad opstap van die Taxi staanplek. Sy lyk naby breekpunt. Êrens het die dag een te veel geraak. Ek ry die klein entjie ompad en laai haar voor die hospitaal af. Sy klim dankbaar uit. Ek voel skaam oor dit waaroor ek bekommer…
Here, bid ek sag en sonder woorde. Vir ‘n ma, net soos ek…
Ons ken almal sulke dae. Waar die lewe omgedolwe voel en dinge net verkeerd wil loop. Soms is dit groot dinge wat pla en ander dae net te veel kleintjies. Die petrolprys maak ons angstig en dinge raak duurder. Soms werk dinge net nie uit soos ons gehoop het nie. Dan slaap ons sleg en raak oorweldig…
Die skool bel. Jou kind is siek. Die taxi vat te lank…
Klein blessings
Die dou op die blare, die manna in die woestyn. Mense wat onverwags ‘n klip uit die pad stoot. ‘n Bussie wat langs jou stop.
Dis wat Hy dan op ons pad stuur.
Soms ‘n noodknoppie, ander kere net ‘n stukkie bederf. Soms ‘n taxi, ‘n metgesel of dalk nuwe skoene vir die pad.
Op my eie verjaarsdag beleef ek so ‘n tipe seëning. ‘n Bederf-blessing om die lewe in te kleur.
Ek besef te laat dat ek nog ‘n koek wou bak. Vir die kinders en sommer net. Tussen my werk, die kinders se programme, my oudste se troureëlings en die berguitstappie, het die tyd my ingehaal. Dan, onverwags laat weet my vriendin dat sy gou iets vir my wil bring. Ek nooi haar vir koffie en voel byvoorbaat sleg dat ek niks het om aan te bied nie. Sy stop voor die deur en klim uit met die mooiste koek in haar hande. Self gemaak, ‘omdat sy geweet het my tyd is min’. Ek voel amper oorweldig deur haar geskenk. Meer as die koek is dit vir ‘n vriendin wat my goed genoeg ken. Wat presies gee wat ek nodig gehad het.
Seëninge onverwags. Manna vir my siel.
Dit kan nie vergelyk word met ‘n ma se kommer-trane nie. Tog kan ek nie help om te dink dat my biblioteek uitstappie dalk met ‘n rede uitgestel was nie. Dat my roete moes verander omdat ‘n ander ma se dag net te veel geword het. ‘n Vader in die hemel het geweet waar die bult te steil sou word.
Sommige manna is bederf, ander raak genade-kos. Oorlewing. Dalk net die herinning aan God se sorg.
Ek weet steeds nie wat haar naam was en of haar kind ok is nie. Ook sal ons paaie waarskynlik nooit weer kruis nie. Ek kan nie elke dag mense oplaai nie en dis dalk nie vir ander so bedoel nie.
Paulus se gebed vir die Filipense herinner my dat dit steeds vir ons vandag bedoel is:
Mag julle liefde al hoe meer toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom…
Die wonder van gister was uiteindelik nie ek wat iets vir ‘n onbekende vrou beteken het nie, maar die Here wat mý oë moes oopmaak. Nie om noodwendig te stop nie maar sodat ek moes hoor.
Die lewe gaan oor meer as me, myself and I.
“En die Koning sal hulle antwoord: Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” Matteus 25:40
Dou op die blare, manna in die woestyn, ‘n koek vir iemand wat verjaar. ‘n Onverwagse taxi. Soms raak klein blessings, die grotes.
Gee júlle vir hulle kos.
-Jesus se opdrag



