
Paadjie na die spruit
Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. 1 Samuel 17:40
Wanneer Dawid noem dat hý teen die Filistyn sal veg, word hy na die koning geneem. Die koning is nie baie oortuig nie. Die seun is te jonk en Goliat is van kleins af ‘n baasvegter. Dawid is egter vasbeslote en die koning laat hom sy eie wapenrusting aantrek. Omdat hy nie daaraan gewoond is nie, kan hy glad nie met die uitrusting loop nie. Hy trek dit uit en los ook die swaard.
Dis dan wat hy koers kies spruit toe…
By my werk is ons ‘n verskeidenheid kollegas, elkeen met sy eie unieke persoonlikheid en gawes. Ons kan bymekaar leer, maar kan nie soos die ander wees nie. Die geheim is wanneer jy kan ontdek watter gawes jou uniek maak en dat die Here elkeen op Sý manier gebruik. Dit raak bevrydend wanneer jy vir Hóm begin werk en nie vir mense nie.
‘n Ander soldaat sou dalk kon regkom met ‘n bronshelm en harnas. Sonder oefening sou ‘n slingervel teen die reus lagwekkend of noodlottig gewees het. Dawid weet wat hy weet. Sy vertroue is ook nie blind nie. Dis gebore uit situasies waar hy die Here se hulp en teenwoordigheid ervaar het: Toe hy moes veg teen ‘n leeu en ‘n beer en daar waar hy alleen moes waak in die nag. Daarom sien hy kans vir die reus.
Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie, lees ons in Saggaria 4. Dis soms die klein momente wat die groot oomblikke word. Die regte woord op die regte tyd. Dawid se geringe werk terwyl hy die skape moes oppas, raak die sleutel van sy suksesverhaal.
Die spruit is sy gemaksone. Sy tipe wêreld. Hy vind daar wat hy soek. Vyf gladde klippies. Tussen die koning se troonkamer en die gevegsveld raak die afdraaipaadjie rivier toe deel van die oplossing.
Wanneer ek self stoei met die wêreld se uitdagings, my twyfel en eie onvermoë, raak die Woord die plek waar ek daagliks klippies moet soek. Ek bêre dit in my hart se kamer en trek dan my tekkies aan. Die berge raak mý spruit waar ek pakkies aflaai en bewus word van God se almag. Ek maak my rugsak vol.
Wanneer die Here vir Moses stuur, vra Hy of Hy self moet saamgaan en vir hom vrede gee. Dis amper of jy wonder, watter tipe vraag is dit? Die Here dring Hom nie aan ons op nie. Dit raak ons keuse… Moses ken net een antwoord: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie…” Eksodus 33
Wanneer ek al die reuse in my lewe moet aanpak, het ek gereedskap nodig. Gister se geloofstreë, daaglikse hoop-uit-sy-Woord-klippies, afdraaipaadjies en stilword tyd. Ek hoef nie iemand anders te wees nie, ek kan slegs bied wat ek het. Hy weet wat ek nodig het… Al wat Hy soek is vertroue en ‘n gewillige hart.
Van die troonkamer na die spruit. Vyf gladde klippies met geloof was genoeg. Soms moet jy eers ‘n afdraaipaadjie neem om die geveg te kan wen.



