‘n Ander Hoop

Op die rommelhoop het hul swaar pakkies gedra. Grys en somber sonder vreugde. Te bang om neer te sit. Te bang om vry te loop. Selfs toe hul iemand ontmoet wat ligter leef en in die reën kan dans, bly hul vashou aan wat hul het. Met somber gesigte tel hul net nog pakkies op.

Ons sit in ons plaaslike teater en kyk gefassineerd na die toneelstuk, die Hoop, deur ons plaaslike Hoërskool. Sonder woorde praat hul ‘n taal wat ons verstaan. Om pakkies op te oplaai en ons rûe vol te pak.

Dan, op ‘n dag, gebeur daar iets wat hul lewens verander. Tussen die rommel verskyn ‘n kind in hul midde. Die kind huil en iets moet gebeur. Hul fokus verskuif van hulself na sy behoeftes. Tussen hul pakkies begin hul soek na iets vir die kind om te drink, te eet en aan te trek. Hulle kyk gefassineerd hoe die kindjie later lag en dinge ontdek. Raak angstig as hy val, maar leer van optel en vertroos. Aanraking raak kosbaar.

Selfs as die kind vertrek bly hul nie onveranderd agter nie. Wat baat al die pakkies as ons die lewe mis?

Hoe besiger ons lewens, hoe meer het ons nodig om stil te staan en waar te neem. Soms net weer kind te word. Teaters by te woon, boeke te lees, te luister na stories, te observeer. Soms tel jy saadjies op wat jou anders laat blom.

So tel ek onverwags ‘n saadjie op wanneer die hardloopklub ‘n boodskap stuur. Een van ons beste atlete het ‘n groot wedloop gewen in ‘n baie goeie tyd. ‘n Foto wys hoe hy sy medalje ontvang. Dit val my op dat dit dieselfde atleet was wat ‘n paar dae gelede ook op die groep opsoek was na ‘n saamry geleentheid na die wedloop. Merkwaardig. Later hoor ek dat hy ‘n tuinwerker van beroep is. Die vers op sy foonprofiel, tref my: “This poor man cried, and Yahweh heard him, and saved him out of all his troubles.” Hy kruis ons pad, nie net vir tekkies of vervoer nie, maar sodat óns ligter kan lewe.

“God is good no matter what trouble you going through. Give to him and he will solve it for you.” Sy antwoord wanneer ek hom persoonlik bemoedig en gelukwens.

Hoe meer ons verstrengel raak in ons eie sorge, hoe swaarder raak ons pakkies. Hoe meer ons raaksien, hoe meer kry ons dit reg om neer te sit en ‘n verskil te maak. Hoe ligter ons lewe, hoe makliker word die dans.

Die Here het gekom om vir ons die lewe te gee. Ons word genooi om ons kommer vir hom te gee met gebed, smeking en danksegging, sodat God se vrede oor ons harte en gedagtes kan waak. Kyk na die voëls, kyk na die blomme, lees ons in Mattheus 6. Sien hoe God vir hulle sorg. Kyk na die kinders…

Miskien is dit nie hoe gróót jou hoop goed is wat die eintlike probleem is nie, maar eerder op wíe jou hoop gerig is. Hoe meer gefokus op jouself, hoe groter jou ‘need’. Hoe meer jy ander raaksien, hoe makliker raak dit om te gee.

Die rykste mens is nie noodwendig die een wat die meeste het nie, maar wat geleer het om met wat hy het, die meeste mee te maak.

Steven het dit lankal ontdek. ‘n Dramastuk in ‘n klein teater het ons herinner.

Hoop kom nie in pakkies nie.

“God’s plan for your life is to give you lasting hope and a meaningful future.” Jeremia 29:11

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories