Blou bome

Die nuus was onverwags. Die man met die gekleurde verfkwas nie meer met ons. Liewe goeie Portchie. My hart wou huil. Ek was lief vir sy helder kleure!

In my kop het ek ver paaie teruggestap. Met ‘n glimlag het ek die keer onthou toe my sussie in trane was by die destydse RAU kampus. Haar volla wou nie ‘start’ nie. Met nadere ondersoek het sy boonop ontdek dat sy enjin gesteel was! Dis hier waar goeie vriend Portchie tot haar redding gekom het. Haar eers uit die nood gehelp voor hy haar gewys het dat ‘n volla se enjin nie voor sit nie, maar agter! Elke keer wat hul mekaar daarna gesien het, het hul maar net gelag. Met dieselfde Volla steeds in ons midde, sal hy altyd deel wees van ons storie.

Ek was mal oor sy prente en later ook sy legkaarte. Vrolike blou, geel en oranje kleure, altyd met blou bome. Dis juis sy manier om kleur in die lewe in te werk waarvan ek die meeste gehou het. In ‘n swart, wit en grys wêreld het ons beslis meer van dit nodig. Tog was dit meer as dit. Sy liefde was met stories ingevleg. Sy pa was ‘n groenteboer maar hy het erken dat hy meer tuis was by sy ma se materiale. Merkwaardig hoe beide uiteindelik deel van sy inspirasie geword het. Wanneer huldeblyke instroom hoor jy die woorde, nederig, vriendelik, kind van God.

Die hemel is helderder vandag.

Nie ver van ons nie, lees ons in dieselfde week van nog ‘n sterfte. Hierdie keer is dit die gesig van ‘n jong seun wat die voorblad haal. Ons lees dat hy ‘n leier was in ‘n topskool. Sy innemende mooi glimlag ruk ‘n mens en laat ons met meer vrae as antwoorde. Ook vir hom stroom huldeblyke in. Die skool beskryf hom as ‘n uitsondelike jong man wat ‘n reuse impak op sy gemeenskap gemaak het. “He led with kindness, integrity and positivity to all who had the privilige of knowing him.” Dis mooi woorde vir ‘n mooi jong man wat op die oog af reeds soveel bereik het. Hardop word gespekuleer of die druk op jongmense bloot te veel raak.

Porchie se prente was besig en tog op ‘n manier was daar ‘simplicity’ in dit. Kinders wat tou spring en met hoepels speel. ‘n Windpomp op die plaas, wasgoed wat wapper in die wind, eende op ‘n dam, mense op gewone fietse.

Hoe sou jy die sonsopkoms vir iemand beskryf wat nie kan sien nie, is die vraag die vorige week in die kerk. Sien ons nog die lewe raak?

Druk op kinders is onafwendbaar. Dit kom van alle kante af en soms voel dit al hoe moeiliker om die tsunami te stop. Hoe hou ons die lewe vir hul mooi? Hoe leer ons hulle om asem te skep? Dalk lê die antwoord juis by die “eenvoudige” dinge van die lewe. Die goed wat nie met geld gekoop kan word nie. Om in verwondering na ‘n sonsopkoms te kyk, op ‘n fiets te klim en die wind in jou hare te voel, op ‘n rots te gaan sit en die branders te hoor breek, om soms net te wees.

Mooi huldeblyke is iets om na te streef maar nie ten koste van die lewe nie. Beide Portchie en die jongman het dit reggekry om kleur te gee aan die lewe, een met ‘n verfkwas, die ander met ‘n omgeehart. Ons sou nog soveel meer daarvan wou sien.

Vul jou hart met mooi dinge, is my wenk aan my kinders. Voed jou siel met dit wat versadig, hoor ek Jesus se stem.

Tussen die blomme in die veld, staan blou bome tevrede. Portchie se handtekening in die hoek. Sy verfkwas het oorgeloop en sy nalatenskap is groot. Meer as sy duisende skilderye is dit veral die boodskap van kleur en eenvoud wat ons moet herontdek. Dalk die grootste geheim vir ons kinders om te bly ‘cope ‘ in ‘n uitdagende lewe.

Kyk op, fluister die Skepper.

Dankie Here vir blou lug en ‘n son wat elke dag opkom. Vir warm oranje sonsondergange, heldergroen blare en pienk proteas. Vir almal bedoel. Gratis. Dankie dat U steeds die lewe vir ons inkleur.

“Eet jou brood met vreugde…” Prediker se wenk.

Kleur die lewe in, selfs al is jou bome blou.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap