Wat is in jou hand?

Daar was die groot skare. Honger en dors na kos en water, maar eintlik na veel meer. Dan was daar die dissipels, oorweldig deur die menigte. Jesus sien raak en kyk verder. Hy vra nie die onmoontlike nie. Net wat hul het. Dan laat hy die mense in groepe sit, neem die broodjies en vissies, breek dit en gee vir die dissipels om uit te deel. Dis nie hulle wat die brood en vis vermeerder nie, ook nie hulle taak nie. Bloot bedoel om Jesus se hande en voete te wees. So raak hul deel van Sý wonderwerk.

Aan die begin van die kwartaal is dit hierdie boodskap wat ek kry terwyl ek musiek uitwerk vir ‘n erediens. Dis ‘n week waar ek ook bietjie oorweldig voel. Werk, skool, huis en nog ‘n kar wat probleme gee. Trek ek die kringetjie verder, is daar familiesake, ons land en die wêreld met al sy politieke leiers en agendas. Te veel om op te noem, te veel om te wil verander. Dan hoor ek Jesus se vraag: Wat het jy in jou hand?

Ek laai dus my passies en gawes in en sit dit voor Sy voete neer. Die skare honger mense is nie vir Hom ‘n bedreiging nie. Ook nie die nood rondom ons of die oorloë wat buite woed nie. My onkunde pla Hom min, en my twyfel en ongeloof bly Hom nie keer nie. Hy vra net om dit wat ek het, aan Hom toe te vertrou, om naby Hom te bly en die hand te word wat kan uitdeel. Daar waar ek is.

Paulus moedig Timoteus aan om nie toe te laat dat iemand op hom neersien omdat hy jonk is nie, maar ‘n voorbeeld moet wees in woord, gedrag, liefde, betroubaarheid en reinheid. (1 Timoteus 4:12). Dit praat van karakter eienskappe meer as van kennis. Ek stuur die vers vir my kinders, veral my oudste wat aantree as ‘n jong nuwe juffrou. Wat dalk ervaring kort, maar op ander gebiede ‘n voorbeeld kan stel.

‘n Oudonderwyseres stuur vir haar die mooiste boodskap:

Dit is voorwaar die mees bevredigende werk. Dit is so lekker om te sien hoe jou kindertjies in jou klas ontwikkel en groei. Geniet elke vlooitjie in jou klas. Mag Jesus jou die wysheid gee om elkeen reg te hanteer. Hier begin jou mamma wees. Verpleegster werk, sielkundige, boekhouer, admin boffin en juffrou wees. Gryp dit met altwee arms aan…

En in hierdie woorde sien ek iets van Jesus wat haar broodjies vat en breek. Dit genoeg maak om kinders te voed. Al wat Hy vra, is ons getrouheid. Om na Hom te kyk, meer as na die oormag. Om te gee wat ons het en bereid te wees dat Hy dit breek sodat ons kan deel…Die wonder is, daar waar God werk, word ons deel van Sy wonderwerke.

Die oormag is steeds daar, die kar nog stukkend en die juffrou steeds onervare, maar Jesus leer ons om anders te kyk. Twee vissies en vyf broodjies was genoeg om ‘n skare te voed.

Wat jy het om te gee, is vir hierdie dag vir Hom genoeg.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories