
Terug kyk
En soos die son sak oor 2025, kyk ek dankbaar terug. Ek het hard gewerk, lekker gestap, goeie boeke gelees en heelwat sonsopkomste gesien. Ek het te min met vriende gekuier en kon meer moeite doen om sonsondergange te aanskou. Ek het gehuil en gelag, was beseer en het herstel. Het gehardloop in die reën maar te min gedans in die wind. Ons het opgestaan, geleef en weer gaan slaap. 365 dae…
Ek het mense ontmoet en met ander se paaie gekruis. Sommige het ek vergeet en ander het ‘n blywende indruk op my gemaak. Oral op my pad was klippies. In die Woord, in die kerk, in artikels, op die radio, in gesprekke en dikwels in die natuur. Ek het sommige opgetel en vasgehou, ‘n paar in my hart gebêre en ander teruggegooi. Die mooies het in woorde verander en het op ander se paaie beland. Hier en daar is iets opgetel. My hart het gejuig. Rimpels van hoop uit God se hand…
Inspirasie het uit verskeie oorde gekom. Van ou mense wat aanhou berge klim en waag om in die see te swem. Seerkry mense wat opstaan kies en ander wat die mooi bly soek. Hulle wat “uncomplicated lewe”, wat saadjies saai en blomme oes. Wat raad uitdeel en moed inpraat. Ek het wysheid ingeskep by sprekers soos Jannie Putter, Dr Deon Forster, Zantie Swanepoel, ons predikante en ander wat met mooi oë na die lewe kyk.
Ek het my wortels uitgestoot na die lewende water en soms net by die Herder se voete gaan sit. Soms sonder raad gevoel, maar nooit radeloos nie, moeg, maar nooit sonder krag nie, bang, maar nie bevrees nie. Omdat Hy by my was.
Ek het daagliks gekies wat ek lees en waarna ek kyk. Ek het ontdek dat elke dag nie goed was nie, maar dat daar iets goeds was in elke dag.
Soms het ek die sang gelei en kitaar gespeel maar ander kere kon ek net my hande in die lug steek en my oë toemaak. ‘n Halleluja uit my hart. “Gratitude” deur Brandon Lake, het my lied van die jaar geword. Ek het besef dat ons soms so hard kan probeer om musiek te maak of goed te doen, maar U hart kan mis as ons verby U kyk. “For every song must end, but You never do.”
En daarom, aan die einde van nog ‘n jaar, raak ek stil en sê ek dankie. Vir gesondheid, vir familie, vriende, ‘n werk, my kinders en my huis, vir ander op my pad, vir stilte, fynbos en berge wat my steeds na hoogtes lei.
Oral was U êrens… Voor my, as ek die pad moes soek, agter my, as ek wou val, langs my, as ek regop moes stap en bo my, as ek moes opkyk vir die groter prentjie. Toe ek U die nodigste gehad het, en gesukkel het om U te vind, het ek ontdek dat U selfs nader was… Binne-in my.
Al wat dus oorbly vir die laaste paar uur, is ‘n halleluja uit my hart!
I've got one response
I've got just one move
With my arm streched wide
I will worship you
So I throw up my hands
And praise you again and again
Cause all that I have is a hallelujah
Hallelujah!


