Moderne sprokie

Dit was ‘n koue Kersdag. Sy vrou en kinders het hom saamgenooi kerk toe. “Ek gaan nie saam nie,” het hy gesê. “Ek glo nie meer nie. Buitendien, waar het jy nou al van so ‘n belaglikheid gehoor, dat ‘n God kies om ‘n mens te word….”

Hy’t voor die kaggelvuur gaan sit om warm te word. Alleen.

Toe gebeur ‘n vreemde ding:

‘n Duif het teen die venster vasgevlieg. Toe nog een, en nog een. Meer duiwe het gevolg. Die man het opgespring en probeer om hul aandag van die venster af te trek. Hy het selfs uigegaan en kos gaan strooi. Dit was tevergeefs. Die swerm voëls was onkeerbaar in hul roete. Die hitte en die lig het hul nader bly nooi. ‘n Desperate gedagte het by hom opgekom. As hy maar net self ‘n duif kon word…

Skielik het sy woorde van vroeër by hom opgekom. ‘n God wat kies om mens te word. Vir die eerste keer het hy verstaan. Die evangelie is vir hom oopgebreek.

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.” Johannes 3:16-17

As hy self maar net ‘n duif kon word…Jesus het mens geword. Nie net het Hy die pad kom wys nie. Hyself het die deur geword waardeur ons kan stap.

Ek is die deur, as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind… Ek is die goeie herder. Johannes 10: 9,11

Immanuel, God met ons. Waag dit om weer te glo.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories